Amper die hele land het lyk my reën gekry. Van bo in die Kalahari, deur Kakamas, Kenhardt, Vanwyksvlei, Carnarvon, Victoria-Wes, Murraysburg tot onderkant uit. Lieflike nat verlossing.
Ons Noordkaapplaas heet Holboordskolk. Kolk. Holbos vir kort.
Hy lê tussen Kenhardt en Vanwyksvlei. Daar is baie plase en plekke in dieselfde omgewing met name wat op water dui. Brandvlei, Vaalputs. Deelmansputs, Basterspan, Takdam. Die ironie tref my telkens wanneer ek daar ry en geen bewys vind vir die name nie.
In die oerjare was die wêreld glo n vleiland. Daar is nog effense bewys van landerye op ons plaas. Net-net, maar wel. Klein keerwalletjies wat moes help om die water op lusern- of koringlande binne te hou. Walletjies wat nou soos stofasems in die genadelose son lê met nie n bossie of n grasspriet om te beskerm in sig nie. Niks nie.
Toe kry die land reën terwyl ek op die plaas, Waterval by Murraysburg is. Ek is bly vir Waterval. Hy kry ook swaar, maar ek is angstig vir Holbos. Holbos is besig om die stryd teen die droogte te verloor.
Ek ry pad toe vir sein en stuur n sms Holbos toe. Die boodskap kom n dag later terug met…’ongelukkig nie’…
Nie n donnerse druppel nie. Net sandstorms en hittegolwe en nog n boorgat wat opgedroog het. My swaer se stem is moeg. Ons vind uit van nog voer. Daar is waaragtig nie n kriesel kos in die veld oor nie. En die jakkalse verskeur en verslind ons lammergetalle tot in die graf in. Vat sommer groot skape ook, sê Swaer. Ons elektrifiseer teen groot koste nog n lyn. Met geld wat die hemele weet ons waar uitkrap. En die regering hou aan belowe. Maar hulle beloftes is so leeg soos die wolke wat oor Holbos dryf.
Die magteloosheid is oorweldigend. Ek troos myself aan die een feit oor vorige droogtes, naamlik dat hulle almal gebreek is. Die natuur het sy ritme en daaraan gaan ons niks verander nie.
Ek lees die sms van Holbos af, oor en oor: “Ons het nou regtig genoeg droogte gehad”.
Ek bid nie vir reën nie. Ek wág vir reën.
Dis al.
Ek wag.
Saam met elke lewende, smagtende organisme op daai plaas.
Ons almal wag.
©️marikavanheerden