Press Enter / Return to begin your search.

Ingénu

Kom deel in die opregtheid, naaktheid en volheid van hierdie stuk aarde tussen Kenhardt en Vanwyksvlei.

Twee maal per jaar, tussen Mei en September, ontvang ek ‘n groep van vier vrouens op die plaas, Holboordskolk, in die Boesmanland. Die naweek sluit drie nagte en twee dae in. Dis hier, waar die stilte, uitgestrektheid, ontdekking, eenvoud, oomblikke en vervulling voorop en volop is.  Ons stap, maak ontbyt in die veld, drink sundowners op die vlak, klim die klipkoppie, braai onder die sterre, stap deur die wendings van die labirint en vertel stories.

Daar is nie selfoonopvangs of wifi nie, maar die werkers het sein en ek kan een sms stuur om jou mense tuis te laat weet dat jy veilig arriveer het.

Los gerus jou haardroër by die huis, daar is nie genoeg krag om jou hare te blaas nie. Ons bad en stort lekker warm met water wat in die donkie gestook word en ons kook met gas en maak vuur. Eenvoud in oorvloed en op sy beste!

Maak jou reg vir ‘n naweek van stilte, asemrowende sterre, vars lug, skoon water onder uit die aarde, stories om die vuur, lag, kuier en rus en ‘n kans om met jou voete plat op die aarde te staan en jouself ‘n slag te aard.