Kom deel in die opregtheid, naaktheid en volheid van hierdie stuk aarde tussen Kenhardt en Vanwyksvlei.
Elke jaar gedurende Mei en September ontvang ek vrouens op die plaas, Holboordskolk in die Bo-Karoo. Die naweek sluit drie nagte en twee dae in. Dis hier waar die stilte, uitgestrektheid, ontdekking, eenvoud, oomblikke en vervulling voorop en volop is. Ons stap, maak ontbyt in die veld, drink sundowners op die vlak, klim die klipkoppie, braai onder die sterre, stap deur die wendings van die labirint en vertel stories.
Daar is nie selfoonopvangs of wifi nie, maar die werkers het sein en ek kan een sms stuur om jou mense tuis te laat weet dat jy veilig arriveer het.
Ons stap en kry kans om deur middel van storievertelling te reflekteer, te ervaar en sin te skep. #stapjoustorie
Maak jou reg vir ‘n naweek van stilte, asemrowende sterre, vars lug, skoon water onder uit die aarde, stories om die vuur, lag, kuier en rus en ‘n kans om met jou voete plat op die aarde te staan en jouself ‘n slag te aard.