Press Enter / Return to begin your search.

Meer oor

Ek is Marika van Heerden en woon tans in Mosselbaai. Ek het in Namibië groot geword en ná skool Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Ons het ‘n plaas in die Bo-Karoo en dis in ontbeerde areas soos hierdie waar mense genoop word om geharde lewens lei en veerkragtig te wees, waar ek my inspirasie kry om te skryf, te waag en vry te leef.  Ek is versot op die skoonheid en ritme van eenvoud.

Ek tree sedert 2008 op as storieverteller en motiveringspreker, skryf stories gebaseer op my verhoudings en ervarings en het ook ‘n handwerkateljee waar ek veral mosaiek doen en werkswinkels aanbied vir kinders en volwassenes. Ek het in 2021 ‘n boek vrygestel, Daar’s sand in my are, wat handel oor stories en karakters in die Bo-Karoo en Namibië. Lees gerus die artikel in Landbouweekblad onder aan hierdie blad.

Sedert 2019 ontvang ek vrouens op die plaas in die Bo-Karoo waar hulle kan deel in die ervaring van ongekunstelde eenvoud . Ek noem hierdie ervaring Ingénu – die Frans so-ewe vir onopgesmuk. Voorwaar naweke waar mens jouself weer kan aard en met vars lug tussen jou blaaie kan huis toe gaan.

Ek reis graag en is veral mal oor stap.  Ek is avontuurlustig en het onder andere al Kilimanjaro geklim en tot by Everest Basiskamp gestap, die Visrivier skeurvallei in Namibia gestap en ook 100km deur die Namib-woestyn aangepak.

Ek behaal ‘n meestersgraad in 2023 aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Die studie fokus op storievertelling as ‘n bemagtingingsmiddel en ‘n instrument tot selfkennis- en selfontwikkeling.

My ander groot liefde is my brakkie, Dingetjie. Sy is ‘n Miniatuur Pinscher en geniet voorkeurbehandeling bo al my gesinslede. Sy is skandelik bederf en daaroor voel ek nie in die minste sleg nie!

Landbouweekblad 17 Feb 2022

marika van heerden landbouweekblad artikel
marika van heerden landbouweekblad artikel