Storieverteller, skrywer, motiveringspreker, student, liefhebber van die ontbeerde mens en natuur.
Ek is Marika van Heerden en woon in Mosselbaai. Ek het in Namibië groot geword en ná skool Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
Ons het ‘n plaas in die Bo-Karoo en dis in ontbeerde areas soos hierdie waar mense genoop word om geharde lewens lei en veerkragtig te wees, waar ek my inspirasie kry om te skryf, te waag en vry te leef. Ek is versot op die skoonheid en ritme van eenvoud.
Ek tree sedert 2008 op as storieverteller en motiveringspreker, skryf stories gebaseer op my verhoudings en ervarings en het ook ‘n handwerkateljee waar ek veral mosaiek doen en werkswinkels aanbied vir kinders en volwassenes. Ek het in 2021 ‘n boek vrygestel, Daar’s sand in my are, wat handel oor stories en karakters in die Boesmanland, die Karoo en Namibië. Lees gerus die artikel in Landbouweekblad onder aan hierdie blad.
Sedert 2019 ontvang ek vrouens op die plaas in die Bo-Karoo waar hulle kan deel in die ervaring van ongekunstelde eenvoud . Ek noem hierdie ervaring Ingénu – die Frans so-ewe vir onopgesmuk. Voorwaar naweke waar mens jouself weer kan aard en met vars lug tussen jou blaaie kan huis toe gaan.
Ek reis graag en is veral mal oor stap. Ek is avontuurlustig en het onder andere al Kilimanjaro geklim en tot by Everest Basiskamp gestap, die Visrivier skeurvallei in Namibia gestap en ook 100km deur die Namib-woestyn aangepak. Ek hou van hardloop, oefen en rooiwyn.
In 2021 skryf ek by die Universiteit van die Weskaap in om my M-graad in Maatskaplike Werk te doen met die fokus op storievertelling as instrument om selfkennis op die pad na professionele identiteit te ontwikkel.
My ander groot liefde is my brakkie, Dingetjie. Sy is ‘n Miniatuur Pinscher en geniet voorkeurbehandeling bo al my gesinslede. Sy is skandelik bederf en daaroor voel ek nie in die minste sleg nie!