Groot reën vanuit Namibië is voorspel vir die Noordkaap op 21 en 22 Desember 2020.
Groot reën vanuit Namibië is voorspel vir die Noordkaap op 21 en 22 Desember 2020. Daarom ry ek Holboordskolk toe. Ons plaas wat die stryd teen n jarelange droogte gaan verloor as dit nie gou kom reën nie. En as dit nie tydens hierdie kort besoek van my reën nie, sal ek ten minste die samevoeging van Jupiter en Saturnus, Bethlehemster, soveel beter op die plaas kan sien – reken ek ter wille van selftroos. Holbos, die plaas se huisnaam, lê tussen Kenhardt en Vanwyksvlei, so n ent onder Verneukpan. Semi-woestynland, ja.
So 30km buite Carnarvon op die grondpad Vanwyksvlei toe kom ek om n draai. My voet het reeds die rem getrap nog voordat ek kon dink ek wil stop, want ek word begroet deur die allermooiste gesig. Dit lyk of iemand goudgeel kolle teen n vaalgrys agtergrond op doek geverf het. Granaatbosse galore in n oënskynlik morsdood veld!
Ek hop uit die kar en probeer n paar foto’s met my selfoon neem. Dis doodstil, die aarde en die lug is grys. Daar hang belofte in die lug en die dorre grond lê ooparms en wag terwyl die granaatbosse onseker as losprys vir die hemel aangebied word. Die jaar se seer begin stadig sy ry uit my lyf kry.
Toe ek op die plaas stop, val die eerste druppels. Hulle val ver uitmekaar en hulle val stadig, maar hulle is nat en my hart bons wild toe ek dink dat die reën uit die Noorde hierdie plaas mag kom natgooi. Hom gaan kom lawe en hom gaan kom red. Dat hy nie weer jaloersbuie op die buurplase sal gooi terwyl mens en dier smagtend toekyk hoe hy verbytrek nie. Ons grond met toe oë verbyloop nie. Dat hy die veelbesproke genade tog hierdie keer sal betoon.
Die res van die middag dribbel-drup dit en val die reën sag oor die dooie bosse. Amper eerbiedig.
Dinsdagoggend is ek vroeg op. Hein en Bollie is al doenig van halfses af en ons vat die bakkie veld toe. Ons ry elke kamp om. Die afwagting wanneer die reënmeter uit die blik gelig word is senutergend. “Ses, Mevrou!” gil Bollie. Dan weer elf, nege en 12mm. So ry ons deur die veld met die manne agterop en kort-kort gil een as ek n waterplassie in die tweespoorpad nader: “Mevrou moet links! Hy is seepglad!”
My moed sak al hoe verder in my skoene hoe meer ek besef dat die groot reëns ons oorgesien het. Ek sien n video van n man se Cruiser wat in die Latrivier by Kenhardt meegesleur is deur die massa water. Op die FB blad, Reënval in SA, sê iemand Kenhardt het 70 mm gekry. Kenhardt 70 – Holboordskolk 10. Kolk. Hoe ironies.
Skielik sê Hein hier agter op die bakkie: “Jissie ma disse grote koggelmanner!” Ek stop. En so by my kool, daar op die dorre vlak sit n koggelmander. Maar dis nie net vir sit nie. Hy is op pad na n modderpoeletjie toe. Die ou is dors. Ek het n rukkie gesit en wag om te sien of ek n foto kan kry van n waterdrinkende koggelmander, maar hy het net in n katatoniese stupor bly staan, het seker die vrede so min soos ek vertrou.
More moet ek weer vort en die hemelruim is oopgetrek en helderblou. Die wolke is my seker solank vooruit… Dis genadiglik bietjie koeler na die reën, want hier druk die kwik sommer maklik 50 se kant toe in hoogsomertyd.
Teen sesuur die aand vat ek vir die perd lusern. En toe ek opkyk, hang daar n fabelagtige stuk wolk in die Weste. ‘n Beeldskone formasie met die potensiaal om lewens te red. Ek loop sit op die ashoop en neem die een na die ander foto. Amper simbolies, die ashoop en die hoop…
“Hier kom groot weer, Mevrou!” skreeu Bollie van die tuin af. En op daardie moment gryp ‘n wilde wind ‘n sinkbad by die werkershuisie en smyt hom met geweld ‘n paar meter verder die veld in. Die manne begin skarrel om klaar te kom en ek trek die bakkie in die waenhuis.
“Ek wil braai vanaand, Bollie. Pak asseblief vir my n vuur.” ‘n Reuse vraagteken van verbasing skiet oor die ou se gesig. “Maar hier kom groot reën. Mens sal nie kan braai nie”, protesteer hy. “Sien is glo, Bollie. Tot daai waters kom, kom hulle nie. Pak n vuur.”
Halfsewe is die hele hemelruim betrokke en toe die reën begin val, is dit fyn, misagtige druppels wat in die bries wegwaai. Ek braai wors en skink vir my n allemintige glas rooiwyn. Ek ruik die grond, ek sien die pikswart nag en ek sit n emmertjie onder die geut op die stoep. Net vir in case.
Voordat ek die volgende oggend ry, loop kyk ek eers die reënmeter op die werf. Vier millimeter. En toe stop ek by kraai-se-pomp om te sien daar het 6mm geval. By die grensdraad kom n springbok uit die bloute van links af en hol volspoed op my af om net betyds voor die bakkie verby te hardloop en in Breekkierie, die buurplaas, se vlak te verdwyn. Op die hoofpad sit ek die bakkie in 4X4, want daar is kolke en kuile en modderpoele in die pad. Ek stop om een so n poel in Lo4 te benader toe n *gemsbokmuis uit die bossies verskyn en met vernuf reg voor die kar van poel tot poel spring. Die water maak behoorlik n bogie bo-oor elke poeletjie soos hy deurspring.
Toe ek later die aand n stemboodskap van Bollie kry, hoor ek dit het 5mm in die ander kampe gereën. Dis min, ek is teleurgesteld. Maar ek is nie ondankbaar nie. Ek probeer die rusteloosheid met my gedagtes tem en toe ek my lig afsit, dink ek ek het Bethlehemster gemis in ruil vir water. Lewegewende water. Al was dit min.
Die mooi van die geel granaatbosse, die koggelmander, die springbok, die gemsbokmuis en die kuile in die pad swem voor my oë verby toe ek omdraai om te slaap.
Terwyl ek A. G. Visser se Amakeia deur my hart hoor dreun:
In die Amatola-klowe
sing nog net die winterwind
deur die riete
in die maanskyn:
“Tula – Tula – stil my kind!”….
©️marikavanheerden
*gemsbokmuis is vlg die etimologiewoordeboek n waaierstertmuis met n swart en wit gesig en waarvan dié kleurpatroon aan n gemsbok herinner.