Een nag op die plaas in die ontnugterde Boesmanland het Thor die lugruim ingevaar en ʼn tirade in die hemele bo die droë aarde gevoer.
Hy het gebulder en so woes met sy hamer geslaan, dat hemel en aarde hom wie weet waar kon hoor. In afwagting op uitkoms natuurlik; soete uitkoms.
Die wind het nie op hom laat wag nie en vinnig ingeval by Thor se passievolle voordrag. Die twee was soos olie op die vuur en gou is hulle meegevoer in ʼn spel van lig, kleur en klank − ʼn oorverdowende spel waartydens die olienhoutbome in die voortuin laag moes buig … of bars.
Die windpompe het só vinnig begin draai, hulle geshwiep het stil geraak en hulle lemme het geruisloos die wind eerbiedig. Blare, vere, stof en sand is deur die twee pretmakers aangejaag; ongedagtig aan die intimiderende effek van hul opvoering terwyl hulle luidkeels aanhou baljaar het.
Gou het hulle grou-grys wolke begin aanjaag. Dié het bo-oor die plaas kom hang en die belofte in hul vogbelaaide lywe was opmerklik. Daar, bo die dorland het hulle swaar gelê en wag, geweier om voortgestu te word deur die twee passievolle kragte, want hulle moes wag op die bevel van die reënkoningin. Eers dan mog hulle hul vrag durf uitgiet.
Ek vermoed die bepalende oomblik was toe Thor in sy euforie die ysterklipkoppie ʼn gevoelige slag met sy hamer toegedien het en die helder blitse geskok teen duiselingwekkende spoed oor die aarde geskiet het. Hierdie geesdrif was net te veel vir die besadigde koningin van die reën, soos wat dikwels die geval is wanneer passie met aggressie verwar word.
Sy het die wolke vervies aangesê om hul ankers te lig. Maar eers het sy sagkens twee millimeter water oor die werf en die opstal gestrooi en toe vir my gefluister dat sy jammer is oor die weinigheid, want sy ken my versugting. Daarna het sy haar nie langer teen Thor en sy windmaat verset nie en in die stroom van hulle asems suidwaarts gedryf.
Vort.
Ek vermoed dat Moeder Aarde die volgende oggend ʼn appel met Thor in kamers te skil gehad het − een waar hy waarskynlik ʼn les in finesse sou kry.
©marikavanheerden